Werkskepping moet herdink word

Sake 24, November 01 2010

Johannesburg. - ’n Onlangse opname deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) het getoon Suid-Afrika het die swakste vlakke van indiensneming vir mense tussen 15 en 24 jaar oud van alle lande wat nagevors is.  

Dit is bewys van die desperate posisie waarin mense in dié ouderdomsgroep hulself bevind, sê me. Liza van Wyk, uitvoerende hoof van die plaaslike groep AstroTech and BizTech. 

Die voormalige minister van arbeid, mnr. Membathisi Mdladlana, het tevore reeds gesê die probleem kan groot genoeg word om die land se sosiale samehorigheid te ontrafel. 

Van Wyk het gesê ’n soortgelyke waarskuwing het al gekom van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) wat gesê het werkverskaffing sal globaal vanjaar staties bly en eers in 2015 terugkeer na vlakke wat voor die resessie gesien is. 

Die ILO het verwys na situasies in ten minste 25 van die 82 lande waarin die opname gedoen is. In die lande was daar demonstrasies teen die regerings en teen werkgewers. 

Van Wyk het gesê terwyl Suid-Afrika meer as ’n miljoen werke die jaar al verloor het, het sowat ’n kwartmiljoen werkloses hulle by die mark toegevoeg.  

Die regering se hulppakkette wat tydens die resessie ontwikkel is, het tot dusver 6 083 werkers gehelp. 

Dit is belasting- en ander toegewings aan maatskappye om werkers heropleiding te gee wat wissel van vakleerlingskappe tot leerskappe. 

Dit moet ’n alternatief tot afdankings wees. 

Die regering het ook R11 miljard beskikbaar gestel wat die departement van ekonomiese ontwikkeling kan gebruik en dit het reeds tot die skepping van 20 000 werke gelei. 

“Maar dit is ’n druppel aan die emmer,” het Van Wyk gesê. 

Sy het gewaarsku dat maatskappye gewoond daaraan word om prosesse te verbeter en personeel af te dank. 

“Wat dit beteken, is dat hulle toenemend sal verwerp wat hulle as eise vir hoër lone sien en sal voortgaan om personeel te verminder, die beste werkers op te lei en meer geld met minder werkers te maak.” 


Source:Werkskepping moet herdink word-Sake24